Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 18 SEPTEMBER 2016



Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jounaam, roepsein en QTH)



Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuusbulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.



‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za,afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.



Dit is met leedwese dat ons vanmore die afsterwe van twee van ons amateurvriende moet aankondig:



Thomé Theron, ZS2TF, van Middelburg se sleutel het Maandag 12 September stil geword en die sleutel van Theuns Barnard, ZS6TJB, het Woensdag 14 September stil geraak



Ons betuig ons innige meegevoel aan die naasbestaandes en vriende van hierdie twee here.





POUSE



IN DIE NUUS VANDAG



YOTA 2016



NUUS VANAF DIE RAAD



KLUBNUUS



Bly ingeskakel vir meer hieroor asook ander interessante nuus items



** Dennis Green, ZS4BS, berig dat gedurende die maand van Desember baie jongelinge roepseine sal aktiveer met YOTA as die agtervoegsel.



Die idee hiervan is om die amateur radio stokperdjie aan die jeug te wys en om jongmense aan te moedig om aktiewe binne die stokperdjie te wees! Oorweeg om 'n demonstrasie by 'n skool of plaaslike klub te gee, kuier saam met vriende, gryp 'n pizza en maak 'n paar QSOs of geniet 'n groot . Kom ons wys hierdie groot stokperdjie aan die wêreld!





Maak gerus kontak met die jongelinge hulle geniet die aandag en om inligting uit te ruil. Gelisensieerde sowel as ongelisensieerde jeug sal op die lug wees so wees maar bedag daarop en laat voel die jonges welkom, gee hulle 'n kans om 'n moontlike nuwe stokperdjie te ervaar sonder om ongeduldig te wees.

Ons almal onthou ons eerste kontak.



Soos in vorige jare sal daar 'n spesiale toekenning wees vir persone wat 'n hele paar YOTA stasies werk. Lees die volledige storie met reëls en registrasie inligting by http://tinyurl.com/yota2016









**** SARL President,Nico van Rensburg, ZS6QL, vertel dat een van die inisiatiewe wat die Raad mee begin het is 'n gereelde Nuusflits om lede op hoogte en ingelig te hou van die raad se werksaamhede.



Die week se nuusflits bestaan uit terugvoer vanaf die finansiële afdeling van die raad t.o.v die huidige stand van die SARL se finansies en ook die pad vorentoe. Die nuusflits kan ook op die SARL se webblad gevind.





**** Mike Bosch, ZS2FM, het hierdie interessante brokkie aan ons verskaf. Die tema vir hierdie jaar by die SARL is “Amateurradio, ’n Poort tot die wetenskap en tegnologie". Nico van Rensburg, ZS6QL, die nuwe president van die SARL, se hy glo dat hierdie tema die oorkoepelende tema vir die volgende paar jaar moet wees en dat die SARL daarop moet fokus om amateurradio vorentoe te neem tot 2025 en selfs daarna.



Hierdie besluit het verreikende gevolge wat beteken dat amateurradio selfs daarop sal moet konsentreer om by te hou met tegnologie en moderne ontwikkeling op die radio front. Hierdie ontwikkelinge sluit Sagteware gedefinieerde radio in. Daar is gelukkig reeds verskeie boustelle beskikbaar wat hierdie taak kan vergemaklik.



Verder is een van die grootste wetenskap projekte in die wêreld besig om vorm aan te neem hier in ons eie land, meer spesifiek in die Karoo, in die vorm van die vierkante kilometer opstelling. Hierdie opstelling konsentreer op die middel frekwensie band tussen 350mHz en 14 Ghz met die lae frekwensie opstelling wat tussen 50 en 350mHz konsentreer in Australie. Hierdie teleskoop beloof om die mees sensitiewe tot op datum te wees wat tot op die randjie van die sigbare heelal kan penetreer. Dink aan die talle ontdekkings en verbeterings wat hieruit kan voortvloei en wat dan uiteindelik kan deursyfer na amateurradio.





**** Die nuut verkose komitee lede van die Pretoria Amateur Radio Klub het tydens hul eerste komitee vergadering na afloop van die Algemene Jaarvergadering wat op 27 Augustus plaasgevind het die portefeuljes as volg toegeken:

Graham Reid ZS6GJR - Voorsitter en web blad

Johan de Bruyn ZS6JHB - Onder Voorsitter,Tydrenne, Sosiaal en herhaler

Andre van Tonder ZS6BRC - Tesourier

Louis de Wet ZS6SK - Sekretaris,Watts & RAE

Etienne Naude ZS6EFN - Skakelbeamte,Bulletin koördineerder en RAE

Pieter Fourie ZS6CN - Klubhuis Bestuurder

Whitey Joubert ZS6JJJ - Sosiaal

Gekoopteerde lede:

Pierre Holtzhausen ZS6PJH - Kompetisies

Jaco Cronje ZR6CMG - Kompetisies

Almero du Pisane ZS6LDP - Vlooimark

Tjerk Lammers ZS6P - Historikus,Argief & Toekennings

Tony Crowder ZS6CRO - Ouditeur

Veels geluk aan die nuut verkose komitee. Dankie ook aan Johan ZS6JHB vir hierdie inligting.



** Dennis Green, ZS4BS, die verkose sekrtaris van die Bloemfontein amateurradio klub het laat weet tydens die Algemene Jaarvergadering van die Bloemfontein ARK gehou op Saterdag 10 September, is die volgende lede verkies tot die komitee vir 2016/2017.



Voorsitter: Andre van Rensburg, ZS4APA

Onder Voorsitter: Hennie Greyling, ZS4HG

Tesourier: Neil Nathan, ZS4NN

Sekretaris: Dennis Green, ZS4BS

Lede: Michael Roodt, ZS4BHF, en Brendon Muller, ZS4BM.









**** Die Kemptonpark Amateurradio Tegniese vereniging nooi jou en jou gesin uit om by hulle aan te sluit op Saterdag 24 September 2016 vir die jaarlikse kattebak verkoping. Hierdie geleentheid vind plaas by 46 Rooibos straat, Kemptonpark. Dit is ook die gereelde bymekaarkomplek vir die Impala Voortrekkers, reg agter die Impala laerskool.



Uitstallers kan van 10:00 af hul stalletjies kom opstel en die hekke maak 11:00 oop vir kopers en besoekers. Kom geniet die Hamburgers, worsrolle, koffie, tee en koeldranke.



Diegene wat wil hokskoonmaak is welkom om van die gratis uitstalruimte gebruik te maak. Vir meer inligting en om plek te bespreek kontak asb vir Hannes Scheepers, ZS6EMS, by 071 676 3600. Hannes het ook die inligting aan ons verskaf.





SEIN VOORTPLANTING



Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Daar is bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie.



Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van 10 vir die week gebruik.



Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 20m bande verwag.



Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.



In ons dagboek is daar heelwat wat gebeur oor die volgende paar weke





18 September - All Africa DX Kompetisie

18 September - SARL BHF/UHF Kompetisie

24 September - KARTS Snuffelmark

24 - 25 September - CQ WW RTTY Kompetisie

1 Oktober - Lente QRP Naelloop

6 Oktober - SARL 80m QSO Partytjie

8 - 9 Oktober - AWA Buis QSO Partytjie

9 Oktober - SARL Jeug Net

20 Oktober - RAE Eksamen



Om mee af te sluit ‘n kort opsomming van ons hoofberig





** Dennis Green, ZS4BS, berig dat gedurende die maand van Desember baie jongelinge roepseine sal aktiveer met YOTA as die agtervoegsel.



Maak gerus kontak met die jongelinge hulle geniet die aandag en om inligting uit te ruil. Gelisensieerde sowel as ongelisensieerde jeug sal op die lug wees so wees maar bedag daarop en laat voel die jonges welkom, gee hulle 'n kans om 'n moontlike nuwe stokperdjie te ervaar sonder om ongeduldig te wees.



Ons almal onthou ons eerste kontak.





Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.



** Die Suid-Afrikaanse Radio liga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radio liga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum vooraf gaan nie.



Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laersyband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n oudio opname deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.



Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentechborg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.



Jy het geluister na 'n nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radio liga, saamgestel deur Dawie Conradie, ZR6DHC, geredigeer deur Vivian Dold, ZS6VD, en gelees deur ...........................................................



Die Afrikaanse nuus span groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens



/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003